Deur Wilma Bedford
Positiewe mense besit sekere karaktereienskappe. Hulle is gereed vir nuwe ervarings en is nie bang vir verandering nie. Hulle neem verantwoordelikheid, reik uit om ander te help, en is gretig om ander te sien slaag. Negatiewe mense blameer ander vir hulle mislukkings, dink aan persoonlike gewin, hoop om ander te sien misluk en verpes kritiek.
Om ʼn positiewe houding in ʼn negatiewe omgewing te handhaaf kan jou van al jou energie beroof.
Om negatiwiteit te voorkom, begin met ʼn dankbaarheidsjoernaal. Sodra jy wakker word, skryf vyf dinge neer waarvoor jy dankbaar is en namate die dag vorder, wees bewus van ander seëninge wat jy ontvang. Dankbaarheid kan jou geluk beduidend vermeerder en jou teen stres, negatiwiteit en depressie beskerm. Lewe met dankbaarheid en druk dit openlik uit.
Vestig positiewe denkpatrone en herhaal hulle vir jouself elke dag. Herhaling van bevestigings maak jou nie alleen positief en optimisties nie, maar versterk ʼn positiewe denke. Gebruik positiewe woorde om jouself en jou lewe te beskryf. Dink aan al jou goeie karaktertrekke en fisiese eienskappe. Hou ʼn sessie met jouself: “My lewe is kommervry, my probleme is nie onoorkomelik nie, ek is ʼn baie gelukkige persoon. Ek het selfvertroue en bly getrou aan myself.” Hoe jy praat, is hoe jou lewe sal wees.
Moenie by ander mense se klagtes ingetrek word nie. Skenk gerus ʼn simpatieke oor en ʼn helpende hand maar stel duidelike grense en weet wanneer om van negatiewe mense weg te loop. Om te kla lei tot slegte buie en negatiewe emosies sowel as minder lewensbevrediging.
Hou ʼn oplossing byderhand wanneer jy ʼn probleem uitwys en bied maniere aan om dinge te verbeter.
As jy fiks wil wees, gaan gim toe; as jy positief wil wees, omring jouself met gelukkige, positiewe mense; dieselfde beginsel is van toepassing. Soek hulle op in die gim of in die werkplek of by sosiale klubs.
Dink aan iemand anders se geluk. Toon waardering vir ander, toon dit woordeliks en gee ʼn kompliment en laat iemand glimlag. ʼn Glimlag kan jou dag en iemand anders sʼn omkeer. Om te glimlag stel serotonien vry – ʼn neurosender wat ʼn gevoel van geluk en welstand produseer en stres verminder. As jy dit moeilik vind om te glimlag weens omstandighede, visualiseer dan jou gelukkigste oomblik. Ons gedagtes en gevoelens beïnvloed ons gedrag.
Herlaai jou batterye. Doen dinge waarvan jy hou en wat jy geniet. Vir jou fisiese en geestelike welstand is dit belangrik om elke dag ʼn paar minute daaraan te wy om jou batterye te herlaai. Doen dinge wat jy geniet om te doen, laat vaar die roetine en herfokus.
Oefening is die natuurlike goed-voel dwelm: volg ʼn gereelde oefenplan.
Fokus op die hede, lewe in die oomblik, dit is belangrik om die verlede te onthou maar dit is skadelik om daarop te dool en obsessief daaroor te wees.
Bronne:
Melli Obrien. The Four Keys to Overcoming Negative Thinking for Good.
10 Simple Habits to Grow A Positive Attitude
Wycklendt, Megan. Inner Peace. Aug 4 2014 Fulfilment Daily. http://www.fulfillmentdaily.com
Oops! We could not locate your form.