Deur Dr. Eugene Brink
Dit lyk na die natuurlikste ding om saam met familie en vriende in besigheid te gaan.
Eerstens, jy ken en vertrou hulle reeds en dit is van die kernelemente van enige suksesvolle besigheid. Julle bande beteken dat meer op die spel is as geld verloor of ʼn mislukte besigheid. Vandaar die aansporing om seker te maak dat elkeen ewe verbind is en die las deel. Dis moeiliker om sommer net weg te loop van so ʼn besigheid as van een waar familiebande of vriendskappe nie op die spel is nie.
Maar om besigheid met plesier te meng, is ongetwyfel nie so eenvoudig as wat dit lyk nie. “Dit lyk dalk na ʼn gawe idee om familielid of vriend as ʼn besigheidsvennoot in te bring, maar dit kan bedrieglik wees om die verhouding te laat werk ─ of te beëindig as dinge nie goed gaan nie,” sê Jane Porter, gasskrywer by Entrepreneur.com.
“Dis maklik om by ʼn besigheid in te kom, maar dis moeilik om daaruit te kom,” sê Wayne Rivers, voorsitter van die Family Business Institute, ʼn konsultfirma van Raleigh, Noord-Carolina.
Ryan Robinson skryf op The Balance sê jy moet lank en diep dink voordat jy in so ʼn verhouding ingaan.
Wat is die vrae en vangplekke wat oorweeg moet word voordat hierdie stap gedoen word? Deskundiges gee raad.
Een van die groot penaries is dat dit dalk moeiliker gaan wees om die sweep te klap. “As jou familielid goed is met dít wat hy of sy doen, sal dit beslis die besigheid glad laat loop. As jy egter omvattende opleiding en leiding moet gee of gereeld moet kontroleer dat hy of sy nie laat slap lê nie, kan die werkverhouding teenproduktief word,” sê Choncé Maddox, ʼn entrepreneur en skrywer oor entrepreneursaangeleenthede.
“As jy ʼn assistent in diens neem wat sommige van sy take nie klaarmaak nie of nie genoeg aandag aan detail gee nie, sal jy waarskynlik jou besorgdheid onder sy aandag wil bring.”
Maar, sê sy, as daardie assistent ʼn familielid is, sal jy, omdat jy ʼn persoonlike verhouding met hom of haar het, minder gewillig wees om hom of haar aan te spreek en te versoek dat hy of sy doeltreffender moet werk. “Jy kan voel dat as jy te kwaai of direk is of bloot nie van konfrontasie hou nie, dit die verhouding kan skade berokken en sake ongemaklik kan maak.”
Porter sê dit is dus belangrik om seker te maak wat julle onderskeie rolle sal wees en sekere reëls oor die grense tussen julle persoonlike en professionele lewens vas te lê. ʼn Studie uit 2010 van 518 familiebesighede het getoon dat die suksesvolstes elke persoon se rol in die maatskappy van die begin af duidelik gestel het, sê Tracy Shaw, assistent-visevoorsitter vir besigheidsmarkontwikkeling by MassMutual Financial Group, wat toesig gehou het oor die FamilyPreneurship-studie.
“As mens saam met familie of intieme vriende werk, sal die grense tussen julle persoonlike en professionele lewens heelwaarskynlik vervaag. Maar julle kan ʼn mate van werk-lewe-balans behou deur ʼn paar reëls in te stel. Julle kan byvoorbeeld ooreenkom om nie werk by familie-etes te bespreek nie of om slegs in noodgevalle by die werk oor persoonlike sake te praat,” sê Porter.
Maddox sê as dit vir jou die beste is om saam met familie te werk, moet julle vroegtydig verwagtinge stel en julle daartoe verbind om besigheid en persoonlike faktore apart te hou sodat meer werk gedoen kan word.
Selena Rezvani, ʼn bydraer by Forbes.com, sê nog ʼn faktor waarna gekyk moet word, is of die ander persoon se lewe stabiel is. Dikwels hou mense hulle blind vir hierdie tipe persoonlike mislukking as vriende en familie betrokke is. “Daar is ʼn rede waarom 60% van werkgewers ʼn potensiële werknemer se kredietgradering en -geskiedenis nagaan.”
Hoe mense hul eie finansies hanteer, lyk na ʼn privaat aangeleentheid, maar in ʼn besigheid word jou eie eindresultaat ontbloot, veral tussen eienaars, sê Rezvani.
Bronne
Choncé Maddox, 5 January 2017, “Should you go into business with your family?”, https://due.com/blog/go-business-family/.
Jane Porter, 20 February 2013, “10 Questions to Ask Before Family and Friends Become Business Partners”, https://www.entrepreneur.com/article/225613.
Ryan Robinson, 19 November 2018, “14 pros and cons for starting a business with family members”, https://www.thebalancesmb.com/should-you-start-a-business-with-family-4091927.
Selena Rezvani, 13 June 2014, “5 Questions To Ask Before Going Into Business With A Friend”, https://www.forbes.com/sites/work-in-progress/2014/06/13/5-questions-to-ask-before-going-into-business-with-a-friend/#7a13b86014af.
Oops! We could not locate your form.