BEL ONS: 012 644 4300

cv-afr

Vandag se arbeidsmark is hoogs kompeterend en werknemers word gekonfronteer met ‘n groot hoeveelheid kandidate wat meeding om dieselfde posisies.  ʼn Professionele CV is ‘n onontbeerlike dokument as dit kom by werksaansoeke en loopbaangroei, en kan deurslaggewend wees in terme van werksonderhoude.

Volgens die NWU Career Centre spandeer ʼn potensiële werkgewer tussen 10 en 40 sekondes om ʼn CV te beoordeel tydens die aanstellingsproses.  ʼn Werksoeker het dus een geleentheid, en ʼn paar sekondes, om ʼn blywende indruk te skep.  In hierdie opsig kan ʼn CV gesien word as ʼn bemarkingsmetode en ʼn advertensie vir die potensiële kandidaat.  Hoe kan werksoekers hul CV’s laat uitstaan bo dié van ander?

ʼn Sterk CV word voortdurend aangepas en opdateer, en suksesvolle werksoekers beskou die CV as ʼn buigsame werksdokument.  ‘n Uitstaande CV gee die werksoeker se persoonlikheid weer en weerspieël ook tot ʼn mate die aansoeker se lewensuitkyk en nie-werksverwante belangstellings.  Dit is ook belangrik om die aanlyn-omgewing in ag te neem – verskeie werkgewers maak deesdae gebruik van die internet en versoek dat CV’s via e-pos of aanlyn-platforms voorgelê word.  Suksesvolle werksoekers is vertroud met die internet en is gemaklik om hul werk-soek-pogings en CV’s aan te pas volgens hierdie medium.

Alhoewel dit nie nodig is om streng by ʼn vaste formaat te bly nie, is daar wel belangrike inligting wat telkens in ʼn professionele CV ingesluit behoort te word:

  • Persoonlike besonderhede: Volle naam en van, adres, nasionaliteit, telefoonnommers, e-pos adres en skakel na ʼn sosiale media profiel op ʼn professionele platform, soos byvoorbeeld LinkedIn. Hou persoonlike detail kort en tot-die-punt.
  • Persoonlike besonderhede: ʼn Kort paragraaf waar die kandidaat sy unieke eienskappe en merkwaardige prestasies ten toon stel en ook sy loopbaandoelwitte bekendstel.
  • Werkservaring: Fokus eerste op huidige of mees onlangse posisies in omgekeerde chronologiese volgorde. Gee veral aandag aan werkservaring wat relevant is tot die betrekking waarvoor jy aansoek doen.  Sluit die naam en webtuiste van die organisasie, datums, posisie beklee en tipe (voltyds, deeltyds of kontrakwerk) in.  Plaas klem op uitkomstes en prestasies, en kies jou woorde versigtig om ʼn sterk indruk te maak.
  • Werksvaardighede: Hier beskryf die werksaansoeker puntsgewys die sleutelvaardighede (key skills) wat hy opgebou het in sy loopbaan tot dusver.  Maar dit is ook belangrik om uit te wys hoe hierdie vaardighede van toepassing is op die posisie waarvoor jy tans aansoek doen (specialised skill).  Rekenaarvaardighede is byvoorbeeld ʼn sleutelvaardigheid, maar die bemeestering van spesifieke sagteware of programme kan gesien word as ʼn gespesialiseerde vaardigheid vir ʼn spesifieke betrekking. 
  • Opleiding en onderwys: Beskryf kortliks akademiese kwalifikasies en begin met die mees onlangse kwalifikasie/akademiese prestasies eerste, in omgekeerde chronologiese volgorde. Sluit in grade, diplomas en sertifikate, en noem ook ekstra-kurrikulêre prestasies tydens jou studiejare.  Kandidate wat onlangs gegradueer het, kan graad 12-vakke insluit, maar werksoekers met meer ervaring kan minder fokus op hoërskoolvakke plaas.  Dit is selde gewens om inligting oor laerskooljare te verskaf nie, behalwe in uitsonderlike gevalle.
  • Verwysings: Sluit twee tot vyf verwysings by jou CV in, en kontak hierdie persone vooraf om te verseker hulle is gemaklik daarmee om vrae oor jou te beantwoord sou potensiële werkgewers hulle kontak. Hou dit professioneel of akademies – familielede kan nie as verwysings optree nie!  Verskaf die naam, van, telefoonnommers en e-pos adresse van verwysings.  Beskryf ook kortliks hoe hierdie persoon ʼn rol gespeel het in jou loopbaan en by watter organisasie julle saamgewerk het. 

Verseker dat daar nie spel- of tikfoute insluip nie en onthou om ook ʼn dekbrief in te sluit wat die belangrikste punte op die CV, relevant tot die posisie waarvoor jy aansoek doen, uitlig (aanlyn-platforms laat soms beperkte spasie hiervoor toe).  Kies ʼn lettertipe wat maklik leesbaar is, en gebruik dieselfde lettertipe en uitleg regdeur die dokument.  En laaste, maar nie die minste nie, moenie aandik of die feite verdraai nie.  Leuens op jou CV is onverskoonbaar en kan jou in die sop laat beland.

Hoofbronne:

How to write a successful CV before applying for a job

How to Make Your Resume Stand Out from the Crowd

North-West University Career Centre

5 Creative Ideas To Make Your Job Application Stand Out

  • 182
  •  
  •  
  •  

Registreer / Register

Maak toe / Close